Roep tot die Here!
2019-03-19Psalm 18:7 NLV
Daar is tye in die lewe wat die beste ding wat jy kan doen is om uit die diepte van jou wese tot God te roep. Moenie daaroor bekommerd wees dat jy onwaardig lyk of dat mense dink dat jy geen geloof het nie. Die Psalmdigter het gesê: ‘In my angs het ek tot die Here geroep… my hulpgeroep het Hy gehoor.’ Elke ouer ken daardie hulpgeroep. Dis anders as ‘n humeurbui of ‘n kerm vir aandag, dis ‘n noodroep. Selfs al kom dit in die middel van die nag, tref jou voete die vloer en hou jy jou kind vas, maak hom skoon, voed hom of troos hom, nog voor jy weet wat aangaan. Dis hoe God oor jou voel. Wanneer jy so laag voel dat jy moet opreik om net die bodem te kan voel, roep tot die Here! Dawid het gesê: ‘Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diep waters het Hy my getrek… Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande. Hy lei my na veiligheid, en red my omdat Hy my liefhet’ (verse 18-20 NLV). Dawid het besef dat God sy ‘veilige vesting’ is (vers 3 NLV). In die Bybelse tyd was ‘n hoë toring ‘n veilige vesting waar die vyand jou nie kon bykom nie. Spreuke 18:10 sê: ‘Die Naam van die Here is soos ‘n veilige fort. Die regverdige gaan skuil daar en word beskerm’ (NLV). Dit verteenwoordig ‘n plek van veiligheid in God waar jy bo die bedreiging en omstandighede uitgelig word. Dis waarheen jy gaan om weer perspektief te kry; ‘n plek waar jy vooruit kan kyk en kan weet dat hierdie toets binnekort verby sal wees. Gaan voort, roep tot die Here – Hy sal jou antwoord.
Sielskos: Job 24-28; Luk 18:31-43; Ps 13; Spr 8:14-16