Rig jou gedagtes (2)
2019-02-07Romeine 12:2 NLV
Wanneer ‘n muishond per ongeluk in jou huis inkom, gaan dit nie help om die vensters oop te maak en lugverfrisser te spuit nie. Daar is mense wat daarin spesialiseer om muishonde te hanteer en dis nogal duur om hulle na jou huis te laat kom om die muishond te vang. Dis egter die moeite werd om van die probleem ontslae te raak. Hoe hou dit met jou denkwyse verband? Eenvoudig: Jou gevoelens is die reuk en jou gedagtes is die muishond! Om jou gevoelens te verander, moet jy na die bron toe gaan wat hulle geproduseer het – jou gedagtes. Gedagtes produseer gevoelens, nie andersom nie. Bekommerde mense is geneig om angstige gedagtes te dink en daardie gedagtes word later so outomaties dat jy, soos ‘n muishondreuk wat in die lug hang, ophou om dit agter te kom en leer om daarmee saam te leef. Jy raak gewoond aan ‘stink gedagtes!’ Jou denkpatrone word ‘n gewoonte, soos om jou tande te borsel. Jy raak so gewoond daaraan om bitter, angstige, selfsugtige gedagtes te dink, dat jy ophou aandag gee. As jy die kwaliteit van jou lewe wil verander, moet jy die manier wat jy dink, verander. Die psalmdigter het gebid, ‘Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my onrustige gemoed’ (Psalm 139:23 NLV). God sal jou help om bewus te word van dit wat van oomblik tot oomblik in jou gedagtes aangaan. Hy sal jou na die plek waar die ‘muishond’ bly lei en jou help om dit te hanteer. Nie net sal Hy jou wys hoe om die verkeerde gedagtes te verwyder nie, maar hoe om hulle met die regte gedagtes te vervang deur jou gedagtes te rig op ‘…die dinge wat die Gees gelukkig maak’ (Romeine 8:5 NLV).
Sielskos: Gen 20-23; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4