Rande en robyne

2021-02-19
Efesiërs 2:8 NLV

Om te verstaan hoe God jou sien, kyk na hierdie twee voorbeelde:

1) ‘n R10 noot. Wat maak dit waardevoller as enige ander stukkie papier van dieselfde grootte? Die rykdom en stabiliteit van die regering wie se stempel daarop afgedruk is. Jy kan die R10 noot opfrommel, daarop trap of dit selfs in twee skeur en weer vasplak, maar sy waarde bly steeds dieselfde.

2) ‘n Robyn. As jy ‘n robyn in die stof rondrol, is dit steeds ‘n robyn, net ‘n vuile. Ons moet uitwys dat jy dan egter eers die vuilheid sal moet afwas en die robyn sal moet poets, om waarlik die skoonheid daarvan te kan waardeer.

Wat is die punt van hierdie twee illustrasies? Dat jou waarde in God se oë, as sy verloste kind, nie verander of verminder wanneer jy vuil word, op getrap word of deur die lewe en omstandighede uitmekaar geskeur word nie. Dis omdat jou werklike waarde nie deur jou eie pogings bepaal word nie, maar deur die prys wat Jesus vir jou aan die kruis betaal het. Daar het die groot wisseling plaasgevind. Al jou sondes, van jou geboorte tot by jou graf, is op Hom gelê. Wanneer jy Hom dan as jou Redder aanvaar, word sy geregtigheid na jou toe oorgedra. Jy hoef dit nie na te streef nie; dis “‘n gawe.” ‘…julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God.’

Sielskos: Gen 7-9; Matt 16:1-12; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20