Probeer om taktvol te wees
2021-07-04Kolossense 4:6 NLV
As jy ‘n gewoonte daarvan maak om te praat sonder om te dink, is daar ‘n Skriftuurlike oplossing vir jou: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Alhoewel eerlikheid altyd die beste beleid is, gee dit jou nie die reg om net te sê wat jy wil nie. Een van die belangrikste vaardighede wat jy kan ontwikkel, is die vermoë om ander mense met takt en sensitiwiteit te hanteer wanneer jy jouself in ‘n moeilike situasie bevind. Jy dink seker dat dit maklik behoort te wees vir diegene wat sê dat hulle deur die Gees van God vervul is, maar die bewyse sê anders. Jy sê: ‘Maar soms is dit nodig om brutaal eerlik te wees!’
Om genade te betoon en die waarheid te praat is nie wedersyds uitgesluit nie. Jy kan leer om die waarheid met takt oor te dra. Die Bybel sê: ‘Die wet is deur middel van Moses gegee, die onverdiende goedheid en waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Johannes 1:17 NLV). Jesus het nooit toegelaat dat goedheid en takt Hom daarvan weerhou om die waarheid te praat nie, maar Hy het dit nooit op ‘n gemene manier gedoen nie. Jy moet ook nie. Soms sê ons dat ons die waarheid in liefde praat (sien Efesiërs 4:15), maar die waarheid is dat woede, frustrasie, teleurstelling en wraak in ons harte ons ware beweegrede is.
Wat is dus die oplossing? Voor jy praat, neem ‘n oomblik om die woorde in jou gedagtes te hersien en probeer om hulle impak te evalueer. Kies dan om aan die Heilige Gees se leiding toe te gee. Dit sal jou help om die emosionele dissipline wat nodig is om taktlose opmerkings in die bek te ruk, te ontwikkel.
Sielskos: Jes 53:2-12; Hand 8:26-40