Probeer om meer liefdevol en sag te wees

2023-07-22
1 Tessalonisense 2:7 AFR83

Stootskrapers is goed daarmee om goed af te breek, maar hulle is nutteloos om goed te bou. Met hierdie prentjie in jou gedagtes, vra jouself: ‘Gebruik ek die krag van my persoonlikheid en die mag van my posisie om my wil op mense af te dwing en hulle sover te kry om dinge op my manier te doen?’ As die antwoord ja is, moet jy die volgende verstaan: Diegene wat die meeste in beheer probeer wees, is dikwels die bangste om beheer te word!

Wat is jy bang sal gebeur as jy ander mense met respek hanteer en hulle insette, idees en keuses oorweeg? Is vrees en intimidasie die enigste manier waaraan jy kan dink om aan verhoudings vas te klou? Sal jy nie eerder die liefde van ander mense wil verdien deur bedagsaam eerder as wreed te wees nie, of is jy bereid om met vreesbevange onderwerping tevrede te wees?

Probeer vir die volgende week om niemand te kritiseer of hulle reg om te kies by hulle te steel nie. Hou aan om jouself hiermee uit te daag vir solank as wat dit neem om jou oorheersende houding onder beheer te kry. Paulus was produktief genoeg om die sendingbriewe te skryf en kragtig genoeg om die dooies op te wek, maar hy het gesê: ‘…Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel’ (vers 7 NLV).

Wanneer mense foute maak, het Paulus gesê: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – probeer om meer liefdevol en sag te wees.

Sielskos: Hand 12-13; Matt 27:27-32; Ps 14; Spr 16:6-7