Praat op ‘n positiewe manier (3)
2021-09-04Filippense 4:8 DB
Positiewe self-praatjies is nie ‘n nuwe konsep nie; dis ‘n Skriftuurlike konsep. Paulus skryf: ‘…Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ‘n goeie lig stel.’
Hier is drie maniere om dit te doen: 1) Vermy vergelykings. Elkeen van ons het verskillende vaardighede. Jy is uniek. Die manier hoe jy dinge doen mag dalk van ander se tegnieke verskil, maar dit maak dit nie verkeerd nie. Vergelykings is onverstandig, onregverdig en bevorder negatiwiteit. Tensy jy die huidige wêreldkampioen is, sal daar altyd iemand wees wat beter as jy in ‘n spesifieke vaardigheid is.
2) Hou aan hoop. Die Bybel sê: “Teen alle verwagting in het Abraham geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: ‘Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel'” (Romeine 4:18 NLV). Die Psalmdigter het gesê: ‘Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys…’ (Psalm 42:6 NLV). Hoop kan jou ‘Ek kan nie,’ wonderbaarlik in ‘Met ‘n bietjie meer tyd kan ek,’ verander. Die verskil is klein, maar diepgaande.
3) Tree positief op om sodoende positief te word. In Winning the Stress Challenge, haal dr Nick Hall ‘n studie aan wat bevestig dat seine wat na die brein van ‘n persoon oorgedra word wanneer hulle op ‘n sekere manier optree, soortgelyke fisiese en geestelike veranderinge veroorsaak as wat deur die werklike emosionele reaksies ontlok word. Met ander woorde, wanneer jy ‘n glimlag op jou gesig plak, kan dit jou waarlik gelukkiger laat voel. Probeer dit!
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Luk 20:1-8; Ps 20; Spr 19:24-29