Oorwinnaars van reuse (4)
2018-11-191 Samuel 17:37 NLV
Dawid het geseëvier omdat hy die krag van suksesse in die verlede verstaan het. Hy het vir koning Saul gesê, ‘Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!..’ Let op: 1) Oorwinnaars van reuse bou op suksesse in die verlede. ‘n Reeks suksesse bou jou momentum en laat jou toe om die mengsel van vertroue in God en vertroue in jouself te ontdek, wat jou onstuitbaar maak. 2 Samuel 3:1 sê, ‘Die gevegte tussen Saul se koningshuis en die ondersteuners van Dawid het lank voortgeduur. Gaandeweg het Dawid al sterker geword, terwyl Saul se koningshuis verswak het’ (NLV). Onthou dus jou oorwinnings in die verlede en vertrou dat die God wat dit voorheen gedoen het, dit weer sal doen. 2) Oorwinnaars van reuse skep hulle eie styl. Dawid kon nie Saul se wapenrusting dra nie – en jy kan nie in iemand anders se gawes optree nie. Jy het jou eie wapen, jou eie wapenrusting en jou eie styl. Jy is uniek toegerus om jou reus te verslaan. Dawid het Goliat met ‘n slingervel verslaan. Moses het die Rooi See met ‘n herderstok geskei. Paulus het siekte en demoniese onderdrukking met ‘n sakdoek oorwin. Vir Simon Petrus, is krag oor siekte deur sy skaduwee vrygestel en baie kere het Jesus eenvoudig net die woord gespreek. Vermy die drang om Saul se wapenrusting aan te trek en klee jouself in die klere wat God jou gegee het. Bly in jou gawes. Bly in jou salwing. Bly in jou taak. Hierdie wen kombinasie van bou op jou suksesse in die verlede en die skepping van jou eie styl, sal daartoe lei dat jy selfvertroue en kreatiwiteit uitstraal, twee geheime wapens van ‘n oorwinnaar van reuse.
Sielskos: Pred 1-4; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 30:7-10