Oorwinnaars van reuse (1)
2018-11-161 Samuel 17:50 NLV
In 1 Samuel 17 lees ons die verhaal van Dawid en Goliat. Die skaapwagter wat die krygsman doodmaak. Die seun wat die reus oorwin. God gee aan Dawid oorwinning oor sy reus, om ons te inspireer om ons eie reuse te konfronteer. Reuse kan tasbaar of nie-tasbaar wees: dis die dinge wat ons nie kan oorkom nie, omdat ons deur vrees verlei word om te dink dat ons dit nie kan oorwin nie. Dit kan onhaalbare doelwitte, onklaar projekte of onvervulde drome wees – die dinge wat ons in middelmatigheid vasgevang hou. ‘n Reus is enigiets of enigiemand wat jou daarvan weerhou om te wees of te doen wat God jou wil laat wees of doen. Reuse kan intern of ekstern, regtig of in jou verbeelding, fisies of emosioneel wees. ‘n Reus kan ‘n houding, ‘n gewoonte, ‘n oortuiging, ‘n denkwyse of ‘n herinnering wees. Dit kan ‘n persoon wees wat tussen jou en God staan; tussen wie jy is en wie God wil hê jy moet wees; tussen waar jy is en waar God wil hê jy moet gaan; tussen dit wat jy glo en dit wat God wil hê jy moet glo. Reuse het een doel – om jou vooruitgang te keer en jou daarvan te weerhou om jou lewensdoel te bereik. Oorwinnaars van reuse sien elke geveg egter as ‘n toets waar die uitdaging is om die negatiewe in ‘n positiewe te verander. Konflik beteken vir hulle groei en om ‘n vyand te verslaan, is die voorvereiste tot bevordering. Reuse kan ons weggesteekte sterkpunte openbaar, ‘n maatstok vir ons groei wees en ons vertroue in God voed. Oorwinnaars van reuse sien geleenthede in teenstand, potensiaal in probleme en oorwinning in die skaduwee van nederlae. Met God se hulp kan jy ‘n oorwinnaar van reuse word.
Sielskos: Rom 12-14; John 11:1-16; Ps 105:1-15; Spr 30:1-4