Oorwin selfsug

2022-05-26
Filippense 2:3 NLV

Paulus skryf: ‘…Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (verse 3-5 NLV).

Hierdie tipe denke druis teen ons natuurlike aard in, maar Jesus het ons gewys hoe om dit te doen. Terwyl Hy aan die kruis gehang het, het Hy tyd vir die veroordeelde misdadiger wat langs hom gekruisig is, gemaak (sien Lukas 23:39-43). Soos hy gestenig is, het Stefanus vir die mense gebid wat besig was om hom dood te maak en God gevra om nie daardie sonde teen hulle te hou nie (sien Handelinge 7:60 NLV). Nadat hulle geslaan en onskuldig in die tronk gegooi is, het Paulus en Silas die tyd geneem om vir hulle tronkbewaarder van die evangelie te vertel. Selfs nadat God ‘n kragtige aardbewing gestuur het wat hulle kettings gebreek het en die tronkdeure laat oopgaan het, het hulle agtergebly om vir hom te preek. Hoe aanloklik moes dit nie gewees het om te ontsnap toe die geleentheid hom voordoen nie. Hulle daad van liefde het egter die bewaarder genoop om te vra hoe hy gered kan word, en gevolglik is hy en sy hele familie vir Christus gewen (sien Handelinge 16:25-34).

Selfsug is ‘n instink waarvoor jy God se hulp daagliks nodig sal hĂȘ om te oorkom. Jy sal nooit ander mense wen deur net soos hulle te wees nie, dus is hier die vraag wat jy moet antwoord: Hoeveel van jou vriende en geliefdes kan Christus dalk leer ken indien jy wys dat jy waarlik vir hulle lief is, in plaas daarvan om hulle te ignoreer, te veroordeel of te verwerp? Probeer dit! ‘…Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself.’

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 12:22-37; Ps 47; Spr 12:4-6