Oorkom versoeking
2023-08-181 Korintiërs 10:13 NLV
Die Bybel sê: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (vers 13 NLV).
Ons gedagtes is soos ‘n hotel. Die bestuurder kan nie keer dat iemand die voorportaal binnekom nie, maar hy kan hom keer om ‘n kamer te bespreek. Dis dieselfde met versoeking. Toe God jou verlos het, het jy ‘n wedergebore gees geword wat in ‘n onwedergebore liggaam woon. Die Bybel sê: ‘…In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe’ (Efesiërs 4:30 NLV). Satan kan nie jou wedergebore gees oorwin nie, daarom val hy jou deur jou laer natuur aan. Paulus het dit erken: ‘Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek’ (Romeine 7:19 NLV). Jy sal nooit immuun teen versoeking wees nie, maar jy kan dit oorkom.
Let drie dinge in die Skrif op: ‘God is getrou.’ Soos ‘n skaapwagter wat nooit sy skape verlaat nie, sal Hy jou terugbring wanneer jy die pad byster raak. 2) ‘Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word.’ Soos ‘n goeie afrigter wat jou oplei, sal God toelaat dat die gewig van die versoeking jou versterk, maar jou nie breek of vernietig nie. 3) ‘Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou.’ As jy kies om jou eie pad te volg, sal jy misluk. God se ‘uitweg’ is deur gebed, sy Woord, Christelike gemeenskap en Geesgevulde lewe. Dis hoe jy versoeking oorkom.
Sielskos: Rut 1-4; Mark 6:14-29; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5