Oorkom jou onsekerheid (2)
2021-11-152 Korintiërs 9:8 DB
As jou sin van selfwaarde van enige ander bron as God – insluitend jouself – af kom, is die kans goed dat jy altyd met onsekerheid sal worstel. Dis hoekom Paulus skryf: ‘Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help…’ Solank as wat jy op jouself of ander mense staatmaak, sal jy met onsekerheid en selftwyfel sukkel.
Sodra jy egter begin om God te vertrou – wat Hy in jou, met jou, deur jou en vir jou kan doen – sal jy anders oor jouself begin voel. Onsekerheid vernietig jou selfbeeld deur jou ongekwalifiseerd en onwaardig te laat voel. Die ergste daarvan is dat dit dikwels beteken dat jy nie geleer kan word nie, nie eerlike kritiek kan aanvaar nie en dat jy as gevolg daarvan, nie kan groei nie.
Dit wat jy die meeste nodig het – goeie insette – word die laaste ding wat jy gewillig is om te aanvaar, omdat jy bang is dat mense sal agterkom dat jy nie perfek is nie. Gevolglik vind jy dit moeilik om uitdagings aan te pak en geleenthede wat oor jou pad kom, aan te gryp. Diep binne-in jou voel jy onbekwaam, onaanvaarbaar, afkeuringswaardig en verwerp. Met dit in gedagte, neem nou eerlik jou lewe in perspektief. Gaan voort; dis veilig, niemand kyk vir jou nie! Die enigste persoon wat hieruit voordeel sal trek, is jy. Draai dan na God toe en sê: ‘Here, alles wat ek in die lewe nodig het om sukses te behaal, het ek in U!’
Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 11:1-16; Ps 83:9-18; Spr 26:17-22