Oorgegooi van ervaring tot ervaring
2023-09-08Jeremia 48:11 NLV
God het gesê: ‘Vanaf die vroegste tye het Moab rustig geleef… Moab is soos ou wyn wat kon verouder, wat nie van houer na houer oorgegooi is nie. Die smaak het nie verlore gegaan nie.’ Hierdie Skrifgedeelte skets twee prentjies vir ons; een natuurlik en een geestelik.
In die natuurlike prentjie sien ons hoe wyn gemaak word deur van houer na houer oorgegooi te word. In die geestelike prentjie sien ons hoe God ons verander deur ons van een ervaring na die volgende oor te gooi. Wanneer die wyn uit een houer in ‘n ander gegooi word, laat dit die afsaksels agter wat verwyder moet word om ‘n goeie oesjaar te produseer.
Soortgelyk sal God toelaat dat jy in situasies oorgegooi word om jou swakpunte te openbaar sodat jy daaraan kan werk. Maak nie saak hoe ongemaklik dit is of hoe graag jy daaruit wil ontsnap nie, God sal jou nie toelaat om dit agter te laat totdat jou kwessies suksesvol hanteer is nie. Hoe weet jy wanneer jou kwessies suksesvol hanteer is? Wanneer jy jou volgende ervaring binnegaan, sal jy dit agterlaat.
Wanneer wyn gemaak word, bestee wyn nie dieselfde hoeveelheid tyd in elke houer nie, omdat elke houer ‘n ander doel het. Net die wynmaker ken die doel van elke houer en kan dus die tyd wat die wyn daarin moet wees, bepaal. As jy van een ervaring na ‘n volgende oorgegooi word, lees die volgende: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 11:12-26; Ps 27; Spr 20:5-6