Ontwikkel jou aanvoeling van God se teenwoordigheid

2024-07-29
Eksodus 33:14 NLV

Wanneer jy God se teenwoordigheid aanvoel en weet dat Hy by jou is, kan jy enigiets wat die lewe meebring hanteer. Probeer om jouself die taak wat Moses gehad het in te dink – om twee miljoen mense uit die greep van slawerny te bevry; hulle deur ‘n woestyn waar hulle aan vyande en uiterste hitte en koue blootgestel is te lei; hulle te voed, van klere te voorsien, hulle geskille te besleg en hulle na hulle bestemming toe te beweeg. Hier is wat Moses gebid het: ‘…As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie’ (vers 15 NLV). Toe sy owerspel met Batseba bekend geword het, het Dawid nie gebid: ‘Moenie my kroon, of my koninkryk, of my soldate wegneem’ nie. Nee, hy het geweet wat die meeste saakmaak: ‘…moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie’ (Psalm 51:13 NLV).

Om geestelik te groei moet jy ‘n toenemende bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe ontwikkel. Hoe doen jy dit? In plaas daarvan om ‘n rots te wees, word ‘n spons. Wanneer jy ‘n rots in die see sit word sy oppervlak nat, maar sy kern bly droog en hard. Wanneer jy egter ‘n spons in die see sit, verander die water die kern van sy wese.

Beweeg stadiger en voel God se teenwoordigheid aan. Begin deur die Skrif te lees, dit neer te skryf, dit oor en oor te herhaal en elke porie van jou siel vir God se teenwoordigheid oop te maak: ‘Die Here jou God is by julle. Hy is ‘n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel’ (Sefanja 3:17 NLV).

Sielskos: Sef 1-3; Luk 9:46-56; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17