Ontmoet Jesus by die Nagmaaltafel
2022-11-18Lukas 24:30 NLV
Net voor Jesus na die kruis gegaan het, het Hy die nagmaal ingestel. Hy het gesê dat die beker sy bloed wat vergiet is en die brood sy gebroke liggaam, verteenwoordig. Hy het die nagmaal afgesluit deur te sê: ‘…Gebruik dit ter herinnering aan My’ (Lukas 22:19 NLV).
Dink nou aan die huis van Kleopas en sy metgesel, nadat Jesus uit die dood opgestaan het. Jesus het saam met hulle op die Emmauspad geloop en gesels en aan hulle verduidelik dat alles wat gebeur het, die vervulling van ‘n profesie was. ‘Maar hulle het by Hom aangedring: ‘Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.’ Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken…’ (Lukas 24:29-31 NLV). Hierdie was ook in ‘n sekere sin ‘n nagmaaldiens. Let egter op wat met die mense gebeur het wat dit bygewoon het.
1) Jesus het hulle daar ontmoet.
2) Hulle oë het oopgegaan en hulle het Hom op ‘n manier herken soos nooit tevore nie.
3) Hulle was diep ontroer. ‘…Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat… het nie?’ (vers 32 NLV).
4) Toe het hulle uitgegaan en ander daarvan vertel. ‘Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: ‘Die Here is regtig opgewek…’ (verse 33-34 NLV).
As jy ooit gewonder het wat jy veronderstel is om te voel en dink terwyl jy nagmaal gebruik, weet jy nou.
Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26