Onthou jy hoe jy was? (1)

2022-01-26
Jesaja 51:1 NLV

Wanneer jy mense vir Christus wil wen, kan jy dit nie met ‘n hoogheilige houding doen nie. Ongelukkig is dit hoe die samelewing baie Christene sien; hulle harte is op die regte plek, maar hulle onvermoë om met meelewing met diegene buite hul sirkel te skakel, doen God geen guns nie. As jy wil hê dat mense op die evangelie moet reageer, moet jy ‘n blaadjie uit Paulus se boek neem. ‘…Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red’ (1 Korintiërs 9:22 ABA). Voordat jy dalk dink dat Paulus dus nie streng genoeg oor sonde was nie, lees wat hy verder sê: ‘…Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet… As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei…’ (1 Korintiërs 9:21-22 DB).

Paulus kon met ongelowiges meelewe sonder om hulle leefstyl te onderskryf, want hy het onthou hoe hy self was voor God hom op die Damaskuspad getransformeer het. Dis die tipe nederigheid wat jy net kry wanneer jy terugkyk en ‘…Dink aan die rots waaruit julle gekap is…’ Deur die ontvanger van God se genade te wees, het Paulus in staat gestel om te skryf: ‘…Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ‘n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie…’ (1 Timoteus 1:15-16 DB). Onthou dus vandag hoe jy was.

Sielskos: Pred 5-8; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10