Ontdek na wie jy geroepe is om uit te reik

2017-09-07
Handelinge 2:6 NLV

Op die dag wat die kerk ontstaan het, lees ons: ‘Almal [die apostels] is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon… Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het… ‘Hoe is dit moontlik?’ het hulle uitgeroep. Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle die tale van ons geboortelande praat!’… Hulle was almal uit die veld geslaan. ‘Wat kan dit tog beteken?’ (verse 4-8, 12 NLV). Die vraag ‘Wat kan dit tog beteken?’ dui daarop dat God alle tipes mense liefhet en gebruik – motorfietsryers en akademici, enkelma’s en beroepsvroue, werkloses en direkteure. Dit sê ook vir ons dat wanneer ons met die Heilige Gees gevul is, Hy ons elkeen toerus om ‘n spesifieke tipe persoon te bereik. Dus: 1) Wie vind jy maklik om mee te praat? Tieners? Dwelmverslaafdes? Bejaardes? Jy mag dalk sukkel om met kinders te praat, maar welsprekend in die geselskap van sakemanne wees. Dis nie ‘n probleem nie, dis hoe God jou ontwerp het. 2) Teenoor wie voel jy die meeste deernis? God gee nie vir ons almal dieselfde geaardheid nie. ‘Omdat Hy hulle harte gemaak het, verstaan Hy alles wat hulle doen’ (Psalm 33:15 NLV). Wat breek jou hart en laat jou pols jaag? Wanneer jy mense sien wat op straat bly, of slagoffers van mensehandel? Mense wat rou of geskei is? Paulus sê, ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan…’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Ontdek dus na wie jy geroepe is om uit te reik.

Sielskos: Jos 22-24; Mark 10:35-52; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21