Ons deel ons lewens

2023-06-27
Hebreërs 10:24 NLV

Robert Putman het ‘n verbysterende stelling gemaak: ‘Navorsing wys dat as jy aan geen groepe behoort nie, maar jy besluit om by een aan te sluit, jy jou risiko om oor die volgende jaar te sterf, rofweg met die helfte verminder.’ Een van die karaktereienskappe van die vroeë kerk was hulle verbintenis tot samesyn, want hulle het geweet dat samesyn nie sommer net vanself gebeur nie. Hulle het daagliks byeen gekom. Hulle het saam geëet.

Met die verloop van tyd het dit egter al minder begin gebeur. Die skrywer van Hebreërs het toe gesê: ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan…’ (verse 24-25 NLV).

Een skrywer stel dit so: “Hoe meer ‘n atleet aanmoediging van die ondersteuners benodig, hoe onwaarskynliker is dit dat hy of sy dit sal kry. Selde dink die aanhangers van ‘n verloorspan: ‘Kom ons kyk hoe ons hom kan aanspoor,’ wanneer ‘n moedelose speler vir sy kolfbeurt opdaag. Te dikwels kry die mense wat juis aanmoediging nodig het, dit nie. Elke dag staar almal rondom jou die lewe, met die ewigheid op die spel, in die gesig. Hierdie lewe het ‘n manier om mense plat te slaan. Elke lewe het ‘n ondersteunersafdeling nodig. Elke lewe het af en toe ‘n skouer om op te leun, nodig. Elke lewe het ‘n gebed wat hulle voor God ophef, nodig. Elke lewe het iemand nodig om soms ‘n paar arms om hulle te vou. Elke lewe het ‘n stem nodig wat sê: ‘Moenie moed opgee nie.'”

Sielskos: Jer 1-3; Matt 22:1-14; Ps 21; Spr 14:17-20