Om vriende met God te wees (1)

2023-11-19
Eksodus 33:12 NLV

Moses het met God gepraat asof Hy ‘n vriend is, deur te deel wat hy voel en dink. God wou dit graag so gehad het. Hier is hoe hulle gesprek gegaan het: ‘…U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het… U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.’ Moses herinner God aan wat Hy voorheen vir hom gesê het. Het jy al ooit vir jou eggenoot of beste vriend gesê: ‘Jy was die een wat gesê het…’? Dis wat Moses hier doen: hy herinner God aan sy eie woorde.

God wil hê dat jy sy Woord moet onthou en dit terug vir Hom moet sê (sien Jesaja 43:26). Nie omdat Hy daaraan herinner moet word nie, maar omdat jy daaraan herinner moet word! Ook omdat sy Woord die enigste Woord is waartoe Hy verbind is om dit te vervul (sien Matteus 24:35). Wanneer jy God se Woord gebruik om te bid, bid jy sy wil en is jy gewaarborg om verhoor te word. Leer en memoriseer dus die Skrifgedeeltes wat jou behoeftes en begeertes aanraak. Wanneer jy dan met God praat, onthou hulle en bid hulle terug vir Hom.

Wanneer jy byvoorbeeld bid: ‘Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV), sal God dit erken! Hoe meer jy van sy Woord leer, hoe meer sal jou gebede met sy Woord ooreenstem en hoe meer in lyn sal jy met Hom voel. Hou jou Bybel naby wanneer jy met God praat, sodat Hy jou gedagtes na die woorde wat Hy wil hê jy moet bid, kan rig.

Sielskos: Num 9:15-23; Gal 5:13-26