Om te groei moet ons aanhou vrae vra
2024-05-31Matteus 21:24 NLV
Jesus het dikwels ‘n vraag met nog ‘n vraag beantwoord. Toe Hy gevra is of mense belasting moet betaal, het Hy ‘n muntstuk geneem en gesê: ‘…Wie se kop en titel is hierop afgedruk?’ Hulle het Jesus geantwoord: ‘Die keiser s’n.’ ‘Wel,’ het Hy gesê, ‘gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom…’ (Markus 12:16-17 NLV).
Dit kom voor asof ons bang is om vrae te vra en om hulle te beantwoord. God sal egter veel eerder ‘n opregte vraag wat uit nederigheid gebore is as ‘n oneerlike gebed wat uit trots gebore is, ontvang. As ons nie oor werklike probleme wat mense in die gesig staar praat nie, gaan ons ons profetiese stem verloor. Wanneer mense ons vra: ‘Wie is God? Wie is ek? Wat is die ware doel van my lewe?’ sal hulle nie met maklike antwoorde of clichés wat ons langs die pad opgetel het, tevrede wees nie. God word nie deur sulke vrae geïntimideer nie.
Soos die ouer van ‘n nuuskierige kleuter, lag God partykeer vir ons vrae. Hy verwelkom dit egter altyd. Die kerk behoort die veilige spasie te wees waar mense gevaarlike vrae kan vra. Ons maak onsself egter dikwels skuldig daaraan om vrae te beantwoord wat niemand eers vra nie. Ons is veronderstel om die status quo uit te daag, maar ons is dikwels besig om dit te verdedig.
Wat as ons ophou om antwoorde af te dwing en leer om nuuskierigheid in ons kerke aan te moedig? Dis ons nuuskierigheid oor God wat ‘n onblusbare begeerte om Hom te ken, aanwakker. Kom ons hou dus aan om vrae te vra en moedig ander aan om dieselfde te doen.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 12:28-44; Ps 108; Spr 13:24-25