Om mank te loop
2021-11-18Genesis 32:31 NLV
Die Bybel vertel ons van Jakob: ‘…Dáár kom hy ‘n man teë wat met hom worstel. Tydens die gestoei kry die man nie die oorhand oor Jakob nie en slaan hom op sy heup sodat dit uit die potjie spring. Toe sê die man: ‘Los my, want dit word dagbreek.’ Uitasem sê Jakob: ‘Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën.’ ‘Wat is jou naam?’ sê die man. Hy antwoord: ‘Jakob.’ ‘Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,’ sê die man vir hom. ‘Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en volhard’… Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: ‘Ek het God persoonlik gesien…’ Die son het opgekom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af was hy mank aan sy heup’ (verse 24-28, 30-31 NLV).
Dink net hoe belangrik ‘n heupbeen vir ‘n boer soos Jakob was. Dit was iets waarop hy elke dag gesteun het en nou was hy swak in ‘n area waarop hy trots was om sterk te wees. Gevolglik moes Hy op God, soos nog nooit tevore nie, begin staatmaak. God het kinders soos Jakob wat mank loop, en jy mag dalk een van hulle wees. Miskien het jy ‘n pynlike mislukking beleef en omdat mankheid nie iets is wat jy kan wegsteek nie, kom mense dit agter.
God is lief daarvoor om gebreklike mense te gebruik, want wanneer hulle sukses behaal, is hulle nie arrogant soos ander wat dink dat hulle die sukses verdien, nie. Hulle is ‘n bietjie meer gewillig om uit te reik en ander mense te omhels. Hulle verstaan dat hulle dit sonder God nie sou gemaak het nie. Wanneer jy geestelik mank loop, moet jy meer op God staatmaak. Dis nie ‘n las nie – dis ‘n bate!
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3