Om deur die nag te kom
2019-02-17Psalm 30:6 NLV
God is gedurende die nag by ons. Dink daaroor; jy was teen die grond, maar deur God se genade het jy weer opgestaan. Maak nie saak hoe donker die nag was nie, jy het weer die oggend gesien. Tye en verhoudings verander, maar God is altyd dieselfde. Hy is die een wat jou in die verlede deur elke moeilikheid gebring het en Hy beloof om elke dag in die toekoms saam met jou te wees. Jy sal weer opstaan en vreugde vind. Jou dryfveer om te oorleef kom uit ‘n put wat reeds binne-in jou is en die Here is die Een wat daardie put volmaak. Laat dit vloei! Jy hoef dit nie te forseer om te vloei nie, laat dit net vloei. Die sestiende-eeuse Britse predikant en historikus, dr Thomas Fuller, het gesê: ‘As dit nie vir hoop was nie, sou die hart breek.’ Maak nie saak waardeur jy tans gaan nie, moenie opgee totdat jy die oggend sien nie. Dit kom altyd aan die einde van elke donker nag en elke gebroke belofte. Na elke terugslag, verraad en ontkenning, sal die oggend verseker breek. Laat niks jou daarvan weerhou om dit te glo nie! God sal jou trane afvee en jy sal met ‘n nuwe lied wakker word. Een van die grootste beloftes in die Skrif is as volg: ‘…Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut… ‘My lewe behoort aan die Here. Ek kan op Hom vertrou.’ Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê’ (Klaagliedere 3:22-25 NLV). Gister het verlede nag geëindig. Dis ‘n nuwe dag, besluit dus om dit te geniet!
Sielskos: Eks 20:3; Hand 14:1-18; 1 Sam 5:1-5