Neem verantwoordelikheid vir jou lewe
2023-09-27Galasiërs 6:5 NLV
Om verantwoordelikheid vir jouself, jou gedagtes en jou aksies te neem, is ‘n belangrike deel daarvan om ‘n bydraende lid van ‘n verhouding te wees. Soms neem ons dinge egter te ver deur ‘n ongesonde verantwoordelikheid vir ander dinge aan te neem en dit dan as verskoning te gebruik om nie verantwoordelik vir onsself en ons eie omstandighede te neem nie. Ons blameer byvoorbeeld ‘n onbeplande swangerskap waarom ons nie universiteit toe gegaan het nie. Of ons blameer ons ongelukkigheid daarop dat ons ter wille van die kinders getroud gebly het.
Ons fokus so baie op ander mense en neem vir hulle lewens verantwoordelikheid, dat ons nooit die tyd neem om vir oplossings te soek om bo ons eie omstandighede uit te styg nie. Uiteindelik word al die hartseer en moeilike tye ons identiteit. Ons kla nie net nie, ons word kroniese klakouse.
Kom ons wees eerlik: soms is ons hartseer verhale bloot verskonings; opgemaakte weergawes van die waarheid om die feit te verberg dat ons besluit het om almal anders vir ons omstandighede te blameer. Sodoende hoef ons nie verantwoordelikheid vir ons lewens te neem nie. Die feit is dat ons almal keuses in die lewe maak; om te gaan of te bly, om te konfronteer of te ignoreer, om te kla of ‘n oplossing te soek.
Dis nooit ‘n goeie idee om verantwoordelikheid vir ander te neem as jy dit doen om te verhoed dat jy moet besluit wat jy vir jouself moet doen nie. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen’ (verse 4-5 NLV).
Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Mark 15:1-11; Ps 54; Spr 21:18-21