Neem tyd om te reflekteer (1)
2019-04-22Rigters 14:8 NLV
Een dag het Simson teen ‘n leeu te staan gekom en hom verslaan. Die Bybel sê: ‘Toe hy later weer… terugkom… het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ‘n Swerm bye was besig om in die geraamte heuning te maak. Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan loop en eet…’ (verse 8-9 NLV). Daar is ‘n les hieruit te leer. Wanneer jy die tyd neem om te stop en te reflekteer, ontdek jy ‘heuning’ in jou ervarings wat jy kan eet om sterker en wyser te word. Wanneer jy reflekteer is jy in staat om dinge in perspektief te plaas; jy kry nuwe waardering vir dinge wat jy nie voorheen opgemerk het nie. Min van ons het ‘n duidelike perspektief in die hitte van die oomblik. Die meeste van ons wat ‘n traumatiese ervaring beleef het, vermy gewoonlik ten alle koste soortgelyke situasies. Dit kan ons met onopgeloste kwessies laat. Reflekterende denke stel jou in staat om afstand van die intense emosies van ‘n ervaring te kry en dit met vars oë te sien. Dis inderdaad die eerste stap om van ons emosionele bagasie ontslae te raak. President George Washington het opgemerk: ‘Ons moenie terugkyk nie, tensy ons dit doen om nuttige lesse uit foute uit die verlede te leer.’ Elkeen van ons is deur die ervarings in ons lewe – goed en sleg – gevorm. Die dinge wat ons weier om te hanteer, beheer ons dikwels op skadelike maniere. Wanneer ons dit egter in die lig uitbring en God vir die genade vra om hulle vas in die oë te kyk, verloor hulle hul mag oor ons.
Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 1:1-8; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23