Neem beheer oor die klein dinge
2024-03-14Daniël 1:8 AFR83
Kan jy jou indink om uit jou huis gevange geneem en na ‘n vyandige land weggevoer te word? Dit het met Daniël gebeur. Koning Nebukadnesar het sy land ingeneem en hom as slaaf na Babel toe geneem. Hy het sy huis, sy werk, sy vryheid, sy kultuur, sy vriende en sy status as lid van Israel se adel verloor. Hy moes ‘n vreemde taal leer praat en op ‘n plek bly waar hy nie wou wees nie.
As jy Daniël was, sou jy nie in die versoeking gekom het om op die dinge wat jy nie kon beheer nie te fokus, soos om ballingskap vir jou ongelukkigheid te blameer en jammer vir jouself te voel? Nie Daniël nie! Hy het beheer van sy lewe in klein areas geneem. Die Bybel sê: ‘Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…’ (vers 8 AFR83). Hy het besluit om – selfs in klein dingetjies – volgens sy oortuigings te lewe. Dis belangrik, aangesien klein gevegte jou vir groot gevegte oplei! As Daniël nie beheer oor die klein dingetjies geneem het nie, sou hy nie die krag gehad het om nee vir die groot dinge, soos die aanbidding van afgode, te sê nie.
Miskien kan jy nie tans iets aan jou huis of jou werk of jou verhouding doen nie, maar jy kan jou lewe verander deur beheer oor die klein dingetjies te neem. Miskien sal dit, soos Daniël, behels wat jy eet, wat jy op die televisie of internet kyk, of wat by jou mond uitkom. Wanneer jy jouself voorneem om God in die klein dinge te eer, sal Hy jou seën en op maniere wat jy nooit gedink het moontlik is nie, by jou lewe betrokke raak.
Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20