‘n Verskoning wat werk

2022-07-08
Jakobus 5:16 NLV

‘n Opregte verskoning kan ‘n gespanne of gebroke verhouding help genees en herstel. Dit eindig egter nie daar nie. Let die volgende op:

1) Om jammer te sê is nie genoeg nie! Dis ‘n goeie en noodsaaklike begin, maar dis nie ‘n goeie einde nie. Om byvoorbeeld te sê: ‘Ek is jammer jy het my woorde verkeerd opgeneem,’ is nie ‘n verskoning nie; dis ‘n aanval! Jy moet spesifiek wees wanneer jy dit waaroor jy berou het, bely. Deur te sê: ‘Ek is baie jammer dat my woorde jou beledig het,’ erken jy wat jy gedoen het en bevestig dat die ander persoon seergemaak is.

2) Neem volle verantwoordelikheid vir jou gedrag. Daarsonder is daar nie genesing of versoening nie. ‘Dit was verkeerd van my om so met jou te praat,’ is eerlik, nederig, konkreet en verantwoordelik. Dit help die gewonde party om jou verskoning as opreg te ervaar. Opregtheid verminder woede en moedig ander aan om jou woorde te vertrou en te aanvaar.

3) Bied aan om dinge reg te maak. Vra: ‘Is daar enigiets wat ek kan doen om dinge beter te maak?’ Dit maak jou verskoning hartlik en opreg. Jakobus het dit as volg gestel: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’

4) Vra vir vergifnis – en moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. ‘Sal jy my asseblief vergewe vir dit wat ek gedoen het?’ Dis nodig dat jy dit sê en dat die ander persoon dit hoor, voordat genesing en herstel kan begin plaasvind. Wanneer jy vergifnis vra en dit gegee word, het julle saam ‘n kontrak geteken. Julle teken julle wedersydse verbintenis om verby die seer te beweeg en na ‘n gesonder verhouding te werk, aan.

Sielskos: Jer 31-32; Matt 24:26-35; Ps 110; Spr 15:8-9