‘n Uitdagende opdrag

2019-07-23
Johannes 15:12 NLV

Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (vers 11 NLV). Wat is hierdie dinge wat jy moet doen om sy vreugde in die lewe te ervaar? Jesus sê vir ons in die volgende vers wat dit is: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.’ Dis ‘n uitdagende opdrag! Jy sal baie moet groei en volwasse word voordat jy aan hierdie opdrag sal kan voldoen. Om die lewe wat Jesus vir jou wil hê egter te geniet, moet jy jouself daaraan toewy om dit te doen! God het verskillende tipes mense met verskillende temperamente en persoonlikhede gekies, dus hou Hy duidelik van verskeidenheid. Toe God die eerste mens geskape het, het Hy gesê dit is goed. Dus is daar nie net ‘n verskeidenheid van mense nie, daar is ook ‘goed’ in elkeen van hulle. Jy is veronderstel om daarvoor op die uitkyk te wees. Baie van ons ongelukkigheid in die lewe word veroorsaak omdat mense nie is wat ons wil hê hulle moet wees nie en nie doen wat ons wil hê hulle moet doen nie. Wat is die antwoord? Hoe kan jy elke dag geniet wanneer jy met irriterende mense te doen moet kry? Deur te besluit om hulle lief te hê. Jy hoef nie van hulle maniere te hou nie, maar jy moet hulle ten spyte van hulle maniere liefhê. Wanneer jy daaroor dink, is dit ook hoe God jou behandel, nie waar nie? Hier is die sleutel om irriterende mense lief te hê: Irriterende mense word gewoonlik deur iets in hulle lewe geïrriteer. Wanneer jy die bron van hulle pyn ontdek, sal hulle beter begin voel en jou beter begin behandel.

Sielskos: Deut 1-2; Matt 11:20-30; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19