‘n Positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk
2019-03-29Filippense 4:6 NLV
Dit gebeur so maklik, veral in die geselskap van verkeerde mense. Voor jy jou oë uitvee is jy besig om te kritiseer en te kla en word die atmosfeer negatief. Jy sê: ‘Maar ek sê net hierdie dinge omdat ek so bekommerd is.’ Lees dan die volgende: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (verse 6-7 NLV). Jy styg bo bekommernis uit deur dank te betuig, nie deur te kla nie. Moet nooit toelaat dat jou vlak van danksegging deur jou situasie bepaal word nie, want God is groter as enige situasie waar voor jy te staan kan kom. Hoe kan jy jou neiging om negatief te wees dan oorkom en eerder ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk ontwikkel? 1) Besluit om dit te doen. Abraham Lincoln het die waarheid gepraat toe hy gesê het: ‘Die meeste mense is so gelukkig soos hulle besluit om te wees.’ Weier om nog ‘n oomblik lank te kritiseer en te kla. 2) Begin nou. Verandering gebeur nie maklik nie, maar as jy nie begin nie, sal dit glad nie gebeur nie. Probeer om meer bewus te wees van wat jy sê. Wanneer jou eerste paar sinne negatief is, korrigeer jouself en stuur die gesprek na dit wat positief is. 3) Verwag die goeie dinge. ‘…Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is…’ (Filippense 4:8). Maak die volgende jou gebed: ‘Here gee vir my ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk.’
Sielskos: Lev 1-4; Luk 20:20-26; Ps 31; Spr 8:34-36