‘n Gebed vir jou kinders

2019-07-15
Psalm 127:3 NLV

Wanneer iemand jou lief genoeg het om aan jou ‘n geskenk of nalatenskap te gee, moet jy dit veilig bewaar en dit op ‘n manier hanteer wat hulle eer. Die Bybel sê dat jou kinders ‘n geskenk van die Here is. Dus is hier ‘n gebed vir hulle: ‘Here, ek kan nie begin om vir U te sê hoe geseënd en dankbaar ek vir my kinders is nie. Ek herken hulle as ‘n beeldskone gawe van U. U het hulle vir my gegee om lief te hê en te versorg, om te geniet en te vier, om groot te maak sodat hulle U as die grootste nalatenskap van alles sal leer ken. Dankie dat niemand, nie eens ek nie, ooit so goed vir hulle kan wees soos U nie. Omdat U vir my die voorreg en verantwoordelikheid gegee het om hulle na U toe te bring, leer my die belangrikheid daarvan om hulle elke dag voor U in gebed op te hef. Hou hulle in die middel van u liefde en die doel wat U vir hulle het. Seën hulle met die kennis van wie U is. Help hulle om hulle vertroue in U te plaas en op die lewenspad wat U vir hulle gekies het, te bly. Stel hulle in staat om die gawes en die roeping wat U in hulle geplaas het te herken en om u leiding soos U hulle ontwikkel en hulle vir u verheerliking gebruik, te volg. Laat u genade by hulle wees en u liefde hulle omring. In Jesus se Naam bid ek dit, amen.’ Dien jou kinders die Here? Indien nie, staan op hierdie Bybelse belofte: “‘Daar is hoop vir die toekoms,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom na hulle land toe'” (Jeremia 31:17 NLV).

Sielskos: Hand 14-15; Matt 9:27-38; Ps 133; Spr 16:2