My daaglikse geloofsbelydenis (2)
2023-09-21Psalm 68:20 NLV
Wanneer jy woorde van geloof wat op die Skrif gebaseer is oor jou lewe spreek, het Jesus ons geleer dat ons alles wat ons vra, sal ontvang (sien Markus 11:23). Dawid verwys na God se seëninge as voordele. God gee elke dag vir ons sy voordele. God wag, is gewillig en wil al hierdie dinge vir jou doen.
Dis hoekom die Psalmdigter skryf: ‘Ek wil die Here prys en sy goeie dade nie vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n. Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word… Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde… Hy straf ons nie vir al ons sondes, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so verwyder Hy ons oortredings. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is… Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag’ (Psalm 103:2-6, 8, 10-14, 17 NLV).
Verstaan die volgende: Jy aktiveer die krag van God se Woord wanneer jy dit oor jou lewe bely.
Sielskos: Eseg 46-48; Mark 14:27-42; Ps 3; Spr 21:4-8