Monitor jou kinders se vriende
2021-07-06Spreuke 1:10 NLV
Jy sal nooit ‘n belangriker werk as dié van ouerskap hê nie. Solank as wat jou kinders onder jou dak is, is jy teenoor God verantwoordelik vir hulle. Met dit in gedagte, doen die volgende: 1) Kyk wie jou kind die meeste beïnvloed. Jou seun of dogter sal om verskeie redes na sekere kinders aangetrek word. Hulle stuur vir hulle boodskappe, praat met hulle oor die foon, nooi hulle na die huis toe, sit by hulle in die kerk, ensovoorts. Jy kan nie elke verhouding wat jou kind het monitor nie, maar jy moet weet wie diegene is wat hulle die meeste beïnvloed.
2) Leer hulle naaste vriende ken. Let op die manier wat hulle praat, aantrek, respek bewys en hoe hulle met jou familie speel en reageer. Moenie bang wees om hulle oor hulle ouers, die kerk wat hulle bywoon en, indien hulle oud genoeg is, hulle verhouding met Christus, uit te vra nie.
3) Gaan jou kind se oornagverblyf na. As jou seun of dogter na ‘n vriend se huis uitgenooi word, praat met die ouers en word van enige aktiwiteite wat dalk buite die huis beplan word, bewus. Maak seker dat hulle voldoende toesig het. Sê vir jou kind dat jy van hulle verwag om maniere te hê en respek te betoon en vra hulle om jou in kennis te stel as daar enige probleme is.
4) Let op waarskuwingstekens. Wanneer jou kind met die verkeerde maats omgaan, is die kans goed dat jy sekere tekens soos onverskilligheid teenoor geestelike dinge, ‘n openlike rebelse houding en ‘n aangetrokkenheid tot musiek, kleredrag en vermaak wat jy nie noodwendig goedkeur nie, sal sien.
‘Is dit nie baie veeleisend nie?’ vra jy. Ja, maar dis ook baie liefdevol en beskermend!
Sielskos: Jer 45-48; Luk 5:12-26; Ps 110; Spr 15:8-9