Monitor jou gedagtes (1)

2022-06-23
2 Korintiërs 10:5 NLV

As ‘n dief by jou voordeur opdaag, sal jy hom binne nooi? Nee, jy sal die polisie bel en hom laat gevange neem. Dis ook wat jy moet doen wanneer verkeerde gedagtes na vore kom! Neem hulle gevange – voor hulle jou gevange neem. Jy moet dit doen die oomblik wat die eerste een in jou gedagtes opkom. Wanneer jy ‘n gedagte koester, bemagtig jy dit en sal dit jou oorwin.

Die Bybel sê: ‘Wys dus dat julle van God afhanklik is… Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Jy het nie op jou eie die krag om Satan te weerstaan nie, moet dit dus nie eers probeer nie! Die oomblik wat jy egter vir God vra en jou wil aan Hom onderwerp, kan jy Satan oorwin. Jy kan besluit wie jou gedagtes sal beheer: ‘As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (Romeine 8:6 NLV).

Wanneer ‘n gedagte oor en oor in jou geestesoog afspeel, moet jy jouself die volgende afvra: ‘In watter rigting stuur hierdie gedagte my? Is dit na ‘n geestelike dood, of na ‘ware lewe en vrede’ toe?’ Dink daaroor: Jy neem nie eers versekering uit nadat ‘n storm jou huis vernietig het nie. In plaas daarvan om te faal en te sê: ‘Ek sal nooit anders wees nie,’ kyk terug en vra jouself: ‘Watter gedagtes het tot my mislukking gelei? Was ek in die verkeerde geselskap, of op die verkeerde plek, of het ek die verkeerde ingesteldheid gehad? Het ek God se Woord gelees en gereeld gebid? Het ek my lewe rondom mense wat my versterk, gebou?’

Om jou gedagtes te monitor, betaal in die langtermyn dividende uit!

Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 20:29-34; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4