‘Moet ek, of moet ek nie?’

2023-07-15
2 Korintiërs 1:12 DB

Oswald Chambers skryf in sy boek, My Utmost for His Highest, die volgende: ‘Gewete is daardie vermoë in my wat aan die hoogste standaard wat ek ken geheg is en my voortdurend aan wat daardie standaard vereis, herinner. My gewete sal my altyd na God se volmaakte wet lei en aandui wat ek moet doen. Die vraag is of ek sal gehoorsaam? God gee ons altyd ‘n opdrag tot in die fynste besonderhede. Hy praat nie met ‘n stem soos donderweer nie – sy stem is so sag dat dit vir ons maklik is om dit te ignoreer. Die enigste ding wat ons gewete sensitief vir sy stem hou, is die gewoonte om innerlik ontvanklik vir God te wees. Moenie vra: ‘Hoekom kan ek dit nie doen nie?’ Daar is geen debat moontlik sodra jou gewete gepraat het nie. Wat dit ook al is – los dit en sorg dat jy jou innerlike visie skoon hou.’

Paulus skryf: ‘Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid’ (vers 12 DB).

Wat as die Bybel egter nie ‘n spesifieke antwoord op jou vraag bied nie en jy wonder: ‘Moet ek, of moet ek nie?’ Hier is jou goue standaard: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV). Kan jy aan ‘n belangriker rede dink om ‘n skoon gewete te behou?

Sielskos: Joël 1-3; Matt 26:26-35; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32