Moenie tou opgooi nie!
2024-03-15Galasiërs 6:9 NLV
Paulus skryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (vers 9 NLV). Kyk na die patriarg Job: hy het die begrafnisse van sy tien kinders bygewoon, sy gesondheid en rykdom op een dag verloor en moes luister na ‘n vrou met ‘n tong wat skerp genoeg was om deur die sterkste staal te sny. Tog het hy nie tou opgegooi nie. ‘…Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is…’ (Jakobus 5:11 NLV). Job het op die einddoel gefokus gebly en die onmiddellike omstandighede verduur.
Ja, daar is tye wat dit aanloklik lyk om tou op te gooi, wanneer ‘n nederlaag onvermydelik lyk en om die aftog te blaas na jou enigste opsie lyk. Die vraag is: hoe hanteer jy daardie tye? Op die drumpel van die Beloofde Land het God vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (Josua 1:9 NLV).
Die Israeliese staatsman David Ben-Gurion het opgemerk: ‘Dapperheid is ‘n spesiale tipe kennis, die kennis van hoe om te vrees wat gevrees moet word en hoe om nie te vrees wat nie gevrees behoort te word nie. Uit hierdie kennis kom ‘n innerlike krag wat ons inspireer om in die aangesig van groot moeilikheid voort te gaan. Wat onmoontlik kan lyk, is dikwels met dapperheid moontlik.’ Waar kom hierdie dapperheid vandaan? Deur die wete dat: ‘…Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.’ Wanneer jy misluk – kan jy weer begin!
Sielskos: 2 Kon 11-12; Matt 23:29-24:2; Ps 135; Spr 7:21-23