Moenie oor die toekoms obsessief raak nie

2021-01-15
Matteus 6:34 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n horlosie wat baie tyd daaraan toegewy het om hom oor sy toekoms te bekommer. Hy het tot die slotsom gekom dat hy twee keer elke sekonde moet tik. ‘Hoeveel keer sal ek dus moet tik?’ het die horlosie gewonder. Dus het hy uitgewerk dat hy 120 keer elke minuut moet tik, wat 7,200 keer ‘n uur is. Dit beteken dat hy in vier-en-twintig uur 172,800 keer sal moet tik en 63,072,000 keer in ‘n jaar. Teen hierdie tyd het die horlosie oorweldig begin voel en al hoe meer begin sweet. Uiteindelik het hy uitgewerk dat hy oor ‘n periode van tien jaar 630,720,000 keer sal moet tik – en op daardie punt het die horlosie ‘n senu-ineenstorting beleef.

Sielkundiges reken dat omtrent 95 persent van dit waaroor ons ons bekommer, nooit gebeur nie. Wat van die ander 5 persent? Vier uit die vyf kere draai dinge beter uit as wat ons verwag het, insluitend ‘n hele klomp seëninge! Op die einde van die dag gebeur net 1 persent van al die slegte goed waaroor ons ons bekommer en dis selde so erg soos ons gevrees het. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.’

Die apostel Paulus gee ons die regte perspektief om volgens te lewe: ‘Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg’ (1 Petrus 5:7 DB). Die woord vir jou vandag is dus – moenie oor die toekoms obsessief raak nie.

Sielskos: Eks 33-35; Matt 7:15-29; Ps 79; Spr 2:9-10