Moenie ontmoediging versprei nie
2020-12-29Numeri 13:32 NLV
Ontmoediging het veroorsaak dat die Israeliete aan God se belofte begin twyfel het, hulle drome opgegee het en in die wildernis gesterf het. Ironies genoeg was hulle net ‘n paar dae se reis van die Beloofde Land af! Hoe het dit gebeur?
Nadat hulle veertig dae in Kanaӓn, ‘n land vol sulke oorvloed dat dit twee manne geverg het om een tros druiwe te dra, bestee het, het tien van die twaalf verkenners teruggekom en gesê: ‘…’Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.’ Hulle het toe ‘n gerug begin versprei oor die land wat hulle gaan verken het…’ (verse 31-32 NLV). Sal jy graag wil weet hoe God oor mense wat sulke ontmoediging versprei voel? ‘Die tien mans… wat teruggekom het en die gemeenskap teen God opgemaak het met die slegte gerug wat hulle oor die land versprei het, het gesterf vanweë ‘n plaag wat die Here gestuur het’ (Numeri 14:36-38 NLV).
Wat van jou? Wanneer jy sien dat ander mense voor negatiewe situasies te staan kom, spreek jy jou twyfel oor hulle vermoë om sukses te behaal uit? Kan jy na iemand se planne luister sonder om teleurstellende opmerkings te maak? Dink aan al die mense wat jou gedurende jou leeftyd al moed ingepraat het! In ‘n wêreld wat deur negatiwiteit en slegte nuus geteister word, het almal ‘n bietjie bemoediging van tyd tot tyd nodig.
Maak dus ‘n bewustelike poging om opregte woorde van bevestiging, ondersteuning en inspirasie teenoor die mense in jou sirkel van invloed te spreek. Wanneer jy ‘n ontmoediger teëkom, moenie toelaat dat hulle jou van stryk bring nie. Herinner jouself en hulle dat God ‘…mag het om… oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Omdat Hy kan!
Sielskos: Mal 3-4; Matt 2:16-23; Ps 139:13-24; Spr 31:28-29