Moenie ‘n slaaf van die verkeerde dinge wees nie
2022-04-24Romeine 6:16 NLV
Paulus praat nie van die soort slawerny waar kinders vir sekshandel en immigrante vir dwangarbeid verkoop word wanneer hy skryf: ‘Besef julle nie dat dít waarvoor ‘n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie?..’ nie. Wanneer dit by sonde kom, trek die Bybel ‘n lyn in die sand en sê vir ons om dit nie oor te steek nie. Hoekom? Omdat wanneer jy een keer oor die lyn trap, dit makliker is om dit weer oor te steek. Of jou ‘dwelmkeuse’ nou alkohol, onwettige of oor-die-toonbank dwelms, pornografie, dobbel of ooreet is, jy dink aan die begin dat jy die meester is en besef op die ou einde dat jy die slaaf daarvan is. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel, is: ‘Ek kan enige tyd daarmee ophou.’
Die Verlore Seun is vergewe en herstel, maar hy het steeds sy erflating verloor. Geestelik gesproke, kan jy jou selfvertroue voor God verloor. Persoonlik gesproke, kan jy jou selfwaarde verloor. In die openbaar, kan jy ander mense se respek en jou invloed by hulle verloor.
As jy nie versigtig is nie, kan selfs die ‘goeie’ dinge jou seermaak. ‘n Sterk werksetiek kan daartoe lei dat jy jou familie afskeep en jou huwelik verloor. Ure voor die televisie kan jou geestelike groei belemmer. Selfs te veel omsigtigheid en bedagsaamheid – goeie eienskappe – kan jou daarvan weerhou om ‘n tree in geloof te neem en jou Godgegewe potensiaal te vervul.
Wanneer God nee sê, is Hy nie besig om ‘n suurpruim te wees of om jou lewe moeilik te maak nie; Hy beskerm jou! As iets die potensiaal het om jou tot slaaf te maak, moet dit nie doen nie. As jy reeds verslaaf is, draai na God toe en Hy sal jou vrymaak.
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51