Moenie ‘n ophef maak nie
2024-03-24Matteus 6:2 DB
Jesus het gesê: ‘Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen… Moenie ‘n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry… Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ‘n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie… jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry’ (verse 1-4 DB).
Gee vrygewig en graag, maar hou dit vir jouself. Dis niemand se besigheid behalwe jou en God s’n nie. As jy dit iemand anders se besigheid maak, kry jy onmiddellik jou beloning en gee jy die geleentheid om iets groters te kry wanneer jy in die hemel aankom, prys. Jy sal jou beloning daar ontvang, want: ‘God… sal nie vergeet… hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het… nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Ander mense mag dalk nie jou vrygewigheid raaksien nie, of dit vinnig vergeet, maar God sal nie en Hy sal jou daarvoor beloon.
Die volgende keer as jy in die kerk sit, moet jy besef dat daar getroue mense oral om jou is wat gegee en weer gegee het, sonder om dit ooit bekend te maak. Jy mag dalk selfs een van hulle wees! Elke Sondag kom jy met van die grootste gewers in aanraking wat dit doen ‘…soos vir die Here…’ (Kolossense 3:23 NLKV), deur dit vir hulself te hou en op die Here se beloofde beloning te wag. Ander mense mag dalk nooit weet nie – maar God sal nooit vergeet nie.
Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29