Moenie jou visie laat vaar nie!

2022-11-23
Spreuke 29:18 NLV

God het ‘n plan vir jou lewe; een wat jou sal help sien wat waarlik belangrik is. Dit word “‘n visie” genoem. Daarsonder, weet jy nie waarheen jy veronderstel is om te gaan nie. Atlete fokus slegs op een ding: om te wen! Om dit te doen, offer hulle verhoudings, ontspanningstyd en plesiere op. Die Boodskap stel dit so: ‘Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ‘n gelukkige mens’ (vers 18 DB).

Wanneer God jou ‘n visie gee, begin jy dinge sien soos Hy hulle sien. Moses het die Beloofde Land ‘gesien,’ terwyl almal rondom hom net woestyn gesien het, wou tou opgooi en na Egipte toe terugkeer (sien Hebreërs 11:24-27). Hy het ook verstaan dat hy die Beloofde Land op God se skedule, volgens God se plan, een tree op ‘n slag, sou bereik. Soms kan jou visie oorweldigend voel. Dis wanneer jy dit in klein stappe moet opbreek en jouself visualiseer waar jy die volgende stap neem. Jy sal verras wees oor jou vooruitgang. Tot jy egter die eerste stap neem, is ‘n visie net ‘n dagdroom.

‘n Britse predikant genaamd Frederick Langbridge het geskryf: ‘Two men looked out from prison bars. One saw mud, the other stars.’ Wat sien jy in jou toekoms? Dink jy dat God sukses net in jou skoot sal laat val? Nee, jy moet jou visie deur geloof energie gee en dit deur harde werk momentum gee. Nadat hulle die hele nag gewerk het en geen visse gevang het nie, het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘…Vaar nou dieper in…’ (Lukas 5:4 NLV). Toe hulle dit doen, het hulle hul grootste vangs ooit gevang. Die wêreld beheer nie jou voorraad nie – God doen!

Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9