Moenie iemand op sy baadjie takseer nie

2021-11-19
Johannes 7:24 NLV

John Wesley het gesê: ‘Ons moet onsself streng oordeel en genadig wees wanneer ons ander mense oordeel.’ Hoekom het Jesus gesê: ‘Moenie oordeel net op wat julle sien nie; oordeel billik’ (vers 24 NLV)? Omdat Hy die pyn van verwerping en misverstand ervaar het. ‘Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie’ (Johannes 1:11 NLV).

Die apostel Jakobus skryf: ‘My liewe broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus… terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer?.. As julle dan ‘n ophef maak van die persoon met die deftige klere… maar vir die arm man sê julle:… ‘Kom sit hier op die vloer,’ sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?.. as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde…’ (Jakobus 2:1, 3-4, 9 NLV).

Die storie word vertel dat die country sanger Lonzo Green se neef, Jimmy, hom gevra het om ‘n vriend se kitaar in te stem. Die probleem was dat Jimmy se vriend aan die ‘verkeerde kant van die treinspoor’ gewoon het en Jimmy se ouers wou hom nie in hulle huis toelaat waar oom Lonzo gekuier het nie. Dus het hulle besluit om mekaar buite te ontmoet. Soos die jong vriend nader gestap het, het Green sy selfbewustheid opgemerk. Lonzo, wat self armoede en diskriminasie in sy eie lewe ervaar het, het die seun se kitaar gestem, ‘n paar liedjies gespeel en hom ‘n paar akkoorde geleer. Die jong man het hom bedank en met ‘n warm herinnering vertrek. Uiteindelik het die seun die treinspoor finaal met sy kitaar, sagte stem en huiwerige glimlag oorgesteek en was nooit weer onwelkom nie. Die seun wat daardie dag nie in die huis toegelaat is nie, was niemand anders as Elvis Presley nie!

Sielskos: 2 Kro 19-21; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6