Moenie bang wees on te misluk nie (1)
2024-07-232 Kronieke 26:5 NLV
Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse strategieë om die vrees vir mislukking te oorkom. 1) Maak seker dat jou visie en waardes in lyn is. Die opkoms en val van koning Ussia word in hierdie woorde vertel: ‘Ussia was sestien toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar in Jerusalem geregeer… Hy het gedoen wat reg was vir die Here… Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee… Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die Here sy God gesondig…’ (verse 3-5, 16 NLV).
Die les hier is duidelik: Sukses kan bedwelmend wees. Bedwelmde mense dink nie te helder nie en eindig in allerhande moeilikhede op. Maak dus seker dat jou visie in lyn met jou kernbeginsels is. Bly in balans. Definieer sukses volgens God se Woord, eerder as die ego-gedrewe sisteme van die wêreld. Om publieke erkenning en lof vir jou prestasies te kry terwyl jou familielewe ‘n gemors is, is byvoorbeeld nie sukses nie. Om jou integriteit vir wins en bevordering prys te gee, is die ergste transaksie wat jy ooit sal aangaan.
2) Leer uit jou mislukkings en foute. Mislukking is nie noodlottig nie en dit definieer ook nie wie jy is nie. Dit is die gevolg van jou aksies, maar nie die maatstaf van jou waarde nie. Thomas Edison het een keer gesê: ‘Ek het nie misluk nie. Ek het net tienduisend maniere gevind wat nie werk nie.’ Beskou jou foute nederig as skoolgeld vir jou opleiding, word wyser en hou aan vorentoe beweeg.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Luk 8:40-56; Ps 146; Spr 18:23-24