Moenie bang wees om te misluk nie (3)

2024-07-25
Matteus 14:29 NLV

Die Bybel sê: ‘Petrus sê toe vir Hom: ‘Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.’ ‘Kom dan,’ het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: ‘Here, red my!’ Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. ‘Jou geloof is maar bitter klein,’ sê Hy vir hom…’ (verse 28-31 NLV).

Wanneer jy weet dat jy gebid, voorberei en beplan het, moet jy uittree en dit doen. Dis normaal om vrees te ervaar wanneer jy probeer om iets te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie. Miskien sien jy Petrus as ‘n mislukking omdat hy begin sink het. Dis egter nie so nie. Eerstens, kry Petrus ‘n A omdat hy gewillig was om sy gemaksone te verlaat en iets te doen wat hy nog nooit gedoen het nie. Tweedens, het hy die opwinding ervaar om vir ‘n kort oomblik op water te loop; geen ander dissipel kon daaroor spog nie. Derdens het hy ‘n waardevolle les geleer: Dis noodsaaklik om op Jesus eerder as jou omstandighede te fokus wanneer jy die onmoontlike aanpak. Vierdens het hy besef dat sy oorlewing alleenlik van Jesus afgehang het.

Jesus het nie vir Petrus veroordeel omdat hy misluk het nie, Hy het net vir hom gesê dat hy groter geloof moet ontwikkel. God sal jou nie in jou foute laat verdrink nie. Solank as wat jy aanhou om Hom te vertrou, sal Hy aanhou om met jou te werk totdat jy sukses behaal. Hy is jou hemelse Vader en jou sukses, is sy sukses!

Sielskos: Hab 1-3; Luk 9:18-27; Ps 65; Spr 19:5-8