Moenie bang wees om te gaan nie

2023-09-13
Deuteronomium 31:7-8 NLV

Wanneer God vir jou sê om te ‘gaan,’ herinner jouself daaraan dat elke detail van jou toekoms reeds aan Hom bekend is.

Eeue gelede, wanneer ‘n kaartmaker nie geweet het hoe die wêreld verder lyk nie, het hy gereeld ‘n draak aan die rand van die boekrol geteken. Dit was bedoel as ‘n teken aan ontdekkingsreisigers dat hulle ‘n onbekende gebied op eie risiko binnegaan. Baie het die draak egter nie as ‘n kaartmaker se waarskuwingsteken nie, maar eerder as ‘n profesie beskou. Hulle het rampspoed buite die bekende wêrelde wat hulle deurkruis het voorsien en hul vrees het hulle daarvan weerhou om voort te gaan om nuwe lande en volke te ontdek. Ander meer avontuurlike reisigers het die draak egter as ‘n teken van geleentheid en ‘n deur na nuwe wêrelde wat die moeite werd is om te verken, gesien.

Elkeen van ons het ‘n verstandelike kaart wat die inligting bevat wat ons elke dag as leiding gebruik. Soos die kaarte van lank gelede, word ons geestelike kaarte se rande ook deur drake of vrese gemerk. Ons vrees dit om te misluk, of om verwerp te word, of gespot te word, of dat ons nie genoeg sal hê nie, of dat ons dit wat ons het sal verloor.

As dit is hoe jy vandag voel, lees hierdie woorde wat God vir sy mense gesê het toe hulle op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, sonder om te weet wat op hulle sou wag wanneer hulle die land sou binnegaan: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan…’ Skryf dus jou doelwit neer, stel ‘n strategie op en bepaal ‘n sperdatum daarvoor. Wy dit dan aan God toe, met die geloof dat Hy voor jou uitgaan om die pad voor te berei.

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21