Memoriseer Skrifgedeeltes en oorwin bekommernis

2021-06-29
Psalm 119:97 NLV

Een van die kragtigste metodes wat God vir jou gegee het om vrees en bekommernis te oorwin, is om Skrifgedeeltes te memoriseer. Jou geheue is soos ‘n spier; hoe meer jy dit oefen, hoe sterker word dit. Seneca, die antieke Romeinse onderwyser van retoriek, sou sy klas van tweehonderd studente beïndruk deur elke student te vra om ‘n gunsteling digvers op te sê. Hy sou dan die tweehonderd verse op een slag vir hulle terug opsê, in die verkeerde volgorde. Sint Augustine het ‘n vriend gehad wat al die digter Virgil se woorde agteruit kon opsê!

Ja, miskien het hierdie twee ouens ‘n gawe daarvoor gehad, maar daar is baie dinge wat elkeen van ons ook uit ons geheue kan opsê. Dinge soos verjaarsdae, huweliksherdenkings, adresse, telefoonnommers en ID nommers. Hierdie dinge het twee karaktereienskappe in gemeen: Ons gebruik hulle dikwels en ons het hulle konstant nodig. Met ander woorde, ons het hulle gememoriseer omdat ons hulle so dikwels gebruik en nou kan ons nie sonder hulle oor die weg kom nie.

Soortgelyk kan jy begin om jou bekommernisse te oorwin, deur hulle elke keer wat hulle in jou gedagtes opkom met ‘n Skrifgedeelte wat jy gememoriseer het, te konfronteer. Dis kragtig! Dis effektief! Dit werk! Hoekom? Omdat God se krag groter as jou probleme is en omdat God se Woord groter as jou bekommernisse is.

God is daartoe verbind om sy Woord te onderhou. Wanneer jy dus Skriftuurlike woorde in plaas van kommer-gevulde woorde spreek, begin God namens jou werk. Hy het aan jou die volgende belofte gemaak: ‘…Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het gaan gebeur’ (Jeremia 1:12 NLV). As jy dus ernstig daaroor is om jou stres en bekommernisse te oorwin, begin dan om God se Woord elke dag te memoriseer en te verbaliseer.

Sielskos: Jer 25-27; Luk 3:11-20; Ps 64; Spr 14:25-28