Mediteer oor God se Woord

2023-11-27
Psalm 1:2-3 NLV

Thomas à Kempis het geskryf: ‘As jy graag in jou geestelike lewe wil groei, moet jy jouself nie toelaat om in die wêreld se werkinge vasgevang te word nie. Jy moet tyd weg van die geraas en verwarring, van die aanloklikheid van mag en rykdom, neem.’ Jy sê: ‘Beteken dit God wil nie hê dat ek doelwitte moet stel en dinge in die lewe moet bereik nie?’ Nee, juis die teenoorgestelde! Die Bybel sê: ‘Gelukkig is die mense wat… sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV).

Wat is die geheim van die boom wat vrugte dra? Diep wortels wat aan lewensgewende waterstrome gekoppel is. Soos die eise op jou tyd en energie groter word, moet jy jouself dissiplineer om nog meer tyd, nie minder nie, met die Skrif te bestee. Wanneer jou innerlike lewe nie in orde is nie, word jou uiterlike lewe disfunksioneel en begin uitmekaar val.

Om harder te werk sal dit net vinniger laat gebeur. Jy sal soos die vlieënier wees wat vir die passasiers aankondig: ‘Daar is goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat ons instrumente gebreek het en ons geen idee het waarheen ons op pad is nie. Die goeie nuus is dat ons vinnig daar gaan kom!’ Wat is die antwoord? Dawid sê: ‘In u voorwaardes het ek my verlustig, soos ‘n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie’ (Psalm 119:14-16 NLV).

Sielskos: 2 Kron 18-20; Joh 11:45-57; Ps 114; Spr 27:20-22