Mediteer oor die Skrif
2023-12-13Psalm 119:15 NLV
As jy geestelik wil groei, het jy ‘n gereelde dieet van die Skrif nodig. Daar is geen plaasvervanger nie. Daar is geen aanvullings nie. Die digter T.S. Elliot het gesê: ‘Alles wat ons eet het ‘n effek op ons. Dit affekteer ons tydens die proses van assimilasie en vertering; en ek glo dat presies dieselfde van enigiets wat ons lees, waar is.’ Ons is wat ons lees.
Kom ons neem dit egter ‘n stappie verder. Om sonder meditasie te lees, is soos om te eet sonder om die kos te verteer. As jy die voedingswaarde wil absorbeer kan jy dit nie net lees nie; jy moet dit kou. Meditasie is die manier wat ons die Skrif metaboliseer. Dis hoe dit in ons gees en siel kom. Die Franse skrywer Jacques Réda het ‘n spesifieke gewoonte gehad. Hy sou elke dag deur die strate van Parys stap, met die doel om daagliks een nuwe ding te sien. Dis hoe hy sy liefde vir die stad vernuwe het.
Ons vernuwe ons liefde vir God op ‘n soortgelyke manier. Ons liefde groei soos ons nuwe dimensies van sy persoonlikheid sien en sy persoonlikheid word hoofsaaklik in die bladsye van die Bybel geopenbaar. Wat as ons God se Woord op dieselfde manier as wat Jacques Réda deur Parys se strate gestap het, benader?
Hier is die geheim tot geestelike groei: Jy kan nie net bloot die Bybel lees nie, jy moet daaroor mediteer. Lees verbreed ons begrip, maar meditasie verskaf diepte. As ons slegs die Skrif lees, is ons begrip van God en ons ervaring van Hom eendimensioneel. Die Bybel is ‘n kaleidoskoop. Elke keer as jy dit draai, word nog ‘n pragtige patroon van waarheid geopenbaar.
Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4