Los die oordeel vir die regter (2)
2020-10-23Matteus 7:2 NLV
As jy die een is wat oordeel, onthou hierdie tydlose beginsel: wat rondgaan, kom terug na jou toe. Jesus het gesê: ‘Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek… Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word’ (verse 1-2 NLV).
Dit word die wet van wederkerigheid genoem en dit waarborg dat jy dit sal ontvang wat jy uitgee. Dis nie ‘n dreigement nie; dis ‘n onveranderlike wet, net soos die wet van swaartekrag. Jy sê: ‘Ek is eerlik, ek sê dit soos ek dit sien. Buitendien, daardie persoon se sonde moet ontbloot word!’ Dit gaan nie oor jou eerlikheid of hulle sonde nie; dit gaan oor God se Woord wat veroordeling verbied. Jy mag dalk reg wees en hulle verkeerd, maar wanneer jy oordeel, oortree jy die Skrif.
Wat as die ander persoon alreeds berou gehad het, hulle sonde bely het en God se vergifnis ontvang het? Dink daaroor: Die ergste vorm van oordeel is om sondes te veroordeel wat God alreeds vergewe en vergeet het (sien Jesaja 43:25).
Wanneer ons ander mense oordeel, kyk ons in die verkeerde rigting. Ons vermy dit wat ons nie wil sien nie – ons eie tekortkominge. Jesus het gesê: ‘En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?’ (Matteus 7:3 NLV). Wat daardie splintertjie ook al mag wees, dis God se besigheid – nie joune nie. Jou ‘stomp’ is jou besigheid!
Jesus het ook gesê: ‘Gelukkig is dié wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan húlle deernis bewys’ (Matteus 5:7 NLV). In plaas daarvan om ander mense te oordeel, begin in jou ‘deernis rekening’ belê. Jy sal dit gou genoeg nodig kry.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14