Lewe naby aan God

2024-03-26
Genesis 5:24 NLV

Het die mense in die Skrif wat naby aan God geleef het, ooit gestruikel? Hulle het. Het hulle ooit die pad byster geraak? Ja. Wanneer hulle voete egter elke oggend die grond getref het, was hulle toegewyd daaraan om dwarsdeur die dag saam met God te stap. Hulle het krag uit sy krag geput, daarna gestrewe om sy wil te doen en die doelwit probeer bereik wat Hy vir hulle gestel het.

Paulus skryf: ‘…Laat julle roeping julle leefstyl bepaal’ (Efesiërs 4:1 NLV). Dit beteken dat jy moet weet in watter rigting God jou lei en in pas met Hom moet bly. Wanneer Hy optree, moet jy optree. Wanneer Hy stilstaan, moet jy stilstaan. As gelowige moet jou lewe nie in dit wat heilig en dit wat sekulêr is, gedeel wees nie. Die Bybel sê: ‘Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan…’ (Handelinge 17:28 NLV). Jy kan nie sê: ‘In hierdie situasie beweeg ek op my eie stoom, maar in daardie situasie beweeg ek volgens die Heilige Gees binne-in my,’ nie. Die Heilige Gees kom en gaan nie in jou lewe nie; Hy is altyd by jou!

Hier is ‘n Skrifgedeelte waaroor jy moet dink: ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape’ (Openbaring 4:11 NLV). Wat ‘n wonderlike gedagte: Jy is geskape om God te behaag! Een van die belangrikste vrae wat jy dus – gereeld – vir jouself kan afvra is: ‘Here, behaag my doen en late U?’ (sien Spreuke 13:5-6). Wanneer jy dit doen, sal jy ontdek dat die rigting waarin Hy jou neem altyd die regte rigting is; sy tydsberekening is altyd die regte tydsberekening en die resultate wat jy kry, is altyd die regte resultate.

Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18