Lewe in die lig (2)
2024-08-18Johannes 12:36 NLV
Die pastoor gaan voort: ‘Lig is een van die dinge wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Ons kan egter nie daarsonder lewe nie. Plante is noodsaaklik vir die mensdom se oorlewing. Die hele menslike spesie en alle dierelewe is van plante vir oorlewing afhanklik. Plante verskaf al die nodige aminosure en meeste van die vitamienes wat vir gesondheid benodig word, deur ‘n ligproses wat fotosintese genoem word. Plante produseer ook die suurstof wat ons nodig het om asem te haal. Plante het egter lig nodig om te lewe.
Wat waar is in die fisiese wêreld, is waar in die geestelike wêreld. Fisiese lewe is onmoontlik sonder fisiese lig en geestelike lewe is onmoontlik sonder geestelike lig. Hoe verdryf mens die donkerte? Sal jy op ‘n rusbank sit en jammer vir jouself voel? Sal jy ‘n besem vat en die donkerte probeer wegvee? Sal jy probeer om die donkerte uit te skop of te stofsuig? Daar is net een oplossing vir so ‘n dilemma; skakel die lig aan.’
Dis wat jy doen wanneer jy jou lewe aan Christus toewy. Dis wat jy doen wanneer jy sy opdragte gehoorsaam en sy instruksies volg. Dis wat jy doen wanneer jy tyd alleen met Hom in gebed bestee. Dis wat jy doen wanneer jy na Hom in die donker tye van jou lewe draai. Dis wanneer jy ontdek dat sy belofte waar is: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV). Nie net dit nie, maar jy sal daardie lig op ander mense begin weerkaats: ‘…julle [moet] aanhou glo in die lig sodat julle kinders van die lig kan wees…’
Sielskos: Joh 4:4-26; Joh 7:37-41; Exo 17:1-7; Jes 35:1-7