Leierskapsverantwoordelikheid (1)

2022-04-13
1 Kronieke 21:1 NLV

Pas nadat hulle ‘n groot oorwinning oor die Filistyne behaal het, het koning Dawid ‘n groot fout begaan. In plaas daarvan om op God vir sy volgende geveg te vertrou, het hy ‘n sensusopname geneem om sy militêre krag te meet en sy kanse op oorwinning te bepaal. Gevolglik het sewentigduisend Israeliete omgekom. Hierdie verhaal leer ons drie belangrike lesse oor leierskapsverantwoordelikheid:

1) Jy is, as leier, Satan se spesiale teiken. Hy weet dat hy deur jou moet gaan om by ander uit te kom, dus sal hy elke strategie gebruik om jou neer te vel. Die gemiddelde raad van direkteure sou die sensusopname heel waarskynlik as ‘n goeie idee gesien het, maar God het dit as ‘n daad van arrogansie en ongeloof gesien.

2) Moenie aanmatigend wees nie. Moenie dat jou vorige oorwinning jou te selfversekerd oor jou volgende geveg maak nie. Die feit dat God pas vir Dawid ‘n groot oorwinning gegee het, moes hom meer, nie minder nie, afhanklik van God gemaak het. Paulus skryf: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ (2 Korintiërs 3:5-6 NLV).

3) Luister na wyse raad. Joab, een van Dawid se offisiere, het hom gewaarsku dat hy besig was om ‘n groot fout te maak. ‘Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem…’ (1 Kronieke 21:4 NLV). Jy mag dalk groot gawes hê, maar jy het nie al die gawes nie. Waar jy blinde kolle het, het ander mense dikwels 20/20 visie. ‘…dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV), luister dus na die mense wat God in jou lewe geplaas het om jou te lei en te beskerm.

Sielskos: Lev 22-23; Luk 23:8-17; Ps 32; Spr 10:4