Leer op die harde manier (4)

2020-06-20
Rigters 16:22 NLV

Die Bybel sê vir ons dat Simson se afgeskeerde hare weer begin groei het. Die proses van vernuwing het begin. Simson het homself bekeer, God het vir hom sy krag teruggegee en hy het sy lewe op ‘n inspirerende, heldhaftige daad geëindig. Miskien voel jy dat jy jou lewe so erg opgemors het dat God jou nooit weer sal liefhê of sal gebruik nie – maar onthou vir Simson! God het nooit oor hom moed opgegee nie; en Hy het ook nie oor jou moed opgegee nie. Hy sien jou potensiaal raak en onthou hoekom Hy jou geskape het; jy is geskep om groot dinge te vermag. Dis eers wanneer jy na die middel van God se wil toe beweeg, dat jy ontdek hoekom jy geskep is. Wanneer jy dit doen, begin dinge in plek val. Daar is iets bemoedigends aan Simson. Hy is in God se lys van geloofshelde ingesluit – die panorama van mense van groot geloof wat in Hebreërs 11 genoem word. Hoekom? Omdat God iemand wat soos ‘n totale mislukking lyk, kan neem en hulle kan gebruik om groot dinge te doen. As Hy net perfekte mense gebruik het, sou niks ooit gedoen word nie. Nee, Hy gebruik gewone mense met swakhede, wat soms op radikale maniere misluk. Wat moet jy dus doen as jy ‘n Simson is? Gee jou lewe aan God oor. Gee vir Hom al die stukke en laat Hom toe om dit weer aanmekaar te sit. Hy kan vir jou die krag gee om weg te breek van die dinge wat jou vashou en Hom daarvan weerhou om in jou lewe te werk. Net God ken jou ware potensiaal en jy sal dit nooit op jou eie kan uitbring nie. Hy moet dit in sy krag doen – laat Hom dus toe om vandag te begin!

Sielskos: 2 Kon 21-23; Luk 1:67-80; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4